My dogter was 5 en half maande swanger met hulle eerste baba (my eerste kleinkind) toe sy vir ‘n sonar gaan en die dokter vir hulle sê hy voel geen hartklop nie. Hulle het in Louis Trichardt gebly en die dokter stuur hulle toe Pietersburg toe (108km ver) na die naaste ginekoloog toe.
7uur daardie aand bevestig die ginekoloog dat die baba nie meer leef nie. Ons wêrelde stort ineen. Ek het nie geweet ek het so baie trane nie en wat sê ek vir my kind en haar man wat so uitgesien het na hulle eersteling.
Dit was ‘n seuntjie.
My dogter en haar man was op daardie stadium altwee in die weermag en hulle kollegas wou altyd weet hoe gaan dit met Troepie, nou moes sy hulle sê ons Troepie dood. Dit was 9 April 1997.
Presies een jaar later op 9 April 1998 is Minettie gebore. Twee jaar later was sy weer swanger en het Liewe Jesus besluit om vir ons sommer ‘n bonus te gee na die verlies van Troepie – en die tweeling is gebore op 27 Desember 2000. ‘n Seun en ‘n dogter, Hanro en Isonè. Die ‘cutste’ bondeltjies liefde.
Hulle is nou in Graad 11 en ek lief hulle op. Hulle het die mooiste persoonlikhede al is hulle absoluut spieëlbeelde van mekaar – boeta ernstig, hardwerkend, maar lekker ondeund, sussa ons sagte hartjie blommekind (wat haar bromponie wil ruil vir ‘n hippiekombi) en jammer is vir alles wat lewe, goggas, diere, mense en wat almal altyd laat lag.
Dankie vir soveel genade Heer!