Archive | Junie 2019

Nihan ouma se hart is so seer!

My ouma hart breek elke keer van voor af as ek hierdie fotos sien.

Maandag middag kry ek ‘n sms van my oudste seun uit Pretoria. Sy 5 jarige seuntjie wat saam met die ander ouma gaan kuier het op skoondogter se sussie se plot is deur hulle hond in die gesig gebyt. Die foto saam met dit laat my hart terselfdertyd gaan staan maar ook besef dit kon erger gewees het.

Maar Here ek bid dan elke dag spesiale engele om ons geliefdes en veral om ons wilde seuntjie…. maar dit is juis hoekom die skade so min is! Dankie Heer! U is getrou!

Ek besef dit kon erger wees want dis ‘n massiewe hond, kruising tussen wolfhond en pitbull en ek sê dankie maar ek huil oor my ou dingetjie se skok en seer en ouma is ver.

Tussen die hartseer deur moet ons giggel ook. My dogter en skoonseun vat vir hom eetgoed en vra hoekom het die hond jou gebyt, en hy antwoord “Hy was seker honger”. Toe hulle by die huis kom na die hospitaal gee hy hulle eie twee worsies een kyk en sê vir sy pa: “Vandag moet met Leila en Brutus net f@koff” Pa het maar hierdie keer nie geraas nie!

Pensioen tameletjies

Liewe blogvriende ek het so lanklaas self geskryf op my blog dat ek amper nie genoeg selfvertroue het om weer te begin nie, maar wees verseker ek het heerlik gelees en ge”reblog” aan julle s’n.

Na die lees van Una se blog oor die toemaak van haar winkel besef ek weereens dit help wanneer mens jou onsekerhede en bekommernisse op skrif sit.  Dit verminder die stres so effens en sit dinge in perspektief en die belangrikste van alles is die terugvoer vanaf die blogvriende, selfs al is dit nie met raat en daad nie is dit emosionele ondersteuning.

Vandat julle laas van my gehoor het, het daar baie dinge gebeur waaronder ook lekker dinge soos ‘n bootreis van 5 sae saam met my dogter (ek vertel later) maar ek dink dit wat die grootste impak op my lewe en toekoms het is die feit dat ek verlede jaar op 60 moes aftree by die firma waar ek werk op 30 September 2018.  Ek is nou 21 jaar hier en a.g.v. die feit dat die ekonomie so beroerd is het ons pensioene ook nie veel gegroei nie. Dus was daar geen manier dat ek kon aftree nie. Maar die Here was goed vir my! My bestuurder wat ek gehad het op daardie stadium sowel as ‘n bestuurder van ‘n klompie jare gelede (wat by ‘n nuwe afdeling is) het my albei ‘n kontrak aangebied.  Ek het dae en nagte omgeswoeg en het gebid vir wysheid om die regte besluit te neem – die vergoeding was omtrent dieselfde maar ek moes dink aan watter een van die 2 bestuurders in staat sal wees om die kontrak elke jaar te hernu tot 65.  Ek glo ek het die regte besluit geneem en het die werk wat ek toe al vir baie jare doen, gelos en na die vorige bestuurder in sy nuwe afdeling toe gegaan en nuwe werk geleer. In die begin het ek heeltyd gewonder of dit wys was om op my ouderdom al hierdie nuwe goed te gaan leer maar nou na 8 maande is ek rustig daaroor.

Die groot bekommernis nou is: wat is die regte ding om met die pensioengeld te doen?  Ek het dit nog nie laat uitbetaal nie aangesien ek nog nie weet wat om te doen nie.

Soms het ek slapelose nagte want die somme wil nie klop om af te tree selfs oor 4 jaar nie maar ek weet God is in beheer en Hy sal voorsien!