Hierdie ouma se hart is baie dankbaar teenoor ons Hemelse Vader en baie
trots. My kleinseun is een van ‘n
tweeling, so ernstig as wat hy is so joviaal en ekstrovert is sy sussie. Van kleins af wou hy dokter word en het op
laerskool al gesê hy gaan eendag ‘n brein oorplant. Daar was net geen Plan B
nie.
Hy het op skool hard geleer maar het steeds nie keuring gekry om medies se
studeer nie en hy het maar begin met sy BSc Chemiese studies. Hanro het hard geleer, geen sosiale lewe
gehad nie en ekstra klasse geneem en na die eerste ses maande weer aansoek
gedoen vir medies keuring.
Net voor die universiteite gesluit het vir die Julie vakansie het die
langverwagte en afgebidde (is daar so woord?) epos gekom wat hom inlig dat hy keuring
het. Ek hoef nie eers vir julle te
probeer verduidelik hoe spesiaal dit is nie julle weet.
Coco was my kleinste ooit babahondjie. Volgens die dame by wie ons haar
gekry het ‘n Pekinese maar sy het beslis bietjie Yorkie in haar gehad. Ons bly
in ‘n tuinwoonstel en het alreeds ons getroue ou Engelse bulhond saamgebring
toe ons die huis verkoop het en dan het ons ook nog ‘n parmantige Pekinese
reuntjie. Dus toe my man vir my ‘n foto stuur van ‘n babahondjie wou ek eers moedeloos
raak maar sy was so oulik ek het dadelik verlief geraak. By die huis gekom het
ek eers besef hoe klein hierdie dingetjie is.
Vir ‘n paar dae het dit goed gegaan maar toe word sy baie siek en het
vinnig agteruit gegaan deur die naweek. Die
Maandag het die veearts vir haar medikasie gegee en gesê omdat sy so bitter
klein is het haar bloedsuiker geval en haar magie spoel, haar tongetjie en tandvleisies
was spierwit. Ek moes saam met die medisyne
ook heuning aan haar verhemelte smeer. Ek
het die medikasie gegee maar sy het al hoe swakker geword. Die Dinsdag so 11uur het my man my by die
werk gebel en gesê sy kan nie meer opstaan nie en val net neer as hy haar
probeer regop sit en ons moet nou maar aanvaar sy gaan nie die dag maak nie. Ek het sit en dink wat moet ek nou doen; by
die werk bly en hoop ek hoef nie te sien hoe sy agteruitgaan nie of moet ek
huistoe gaan en alles in my vermoë doen en kyk of ek haar nie kan red nie.
Intussen het ek baie raad gekry en “gegoogle” en het ‘n plan gehad. Ek het
vir haar ‘n pasta wat hulle bloedsuiker optel (Nutristim) gekoop, dubbelroom
gewone jogurt en ‘n poeier wat van biesmelk van koeie gemaak word. Elke twee ure (in die aand het ek my wekker
gestel vir elke 3 ure) het ek die pasta aangesmeer, die jogurt met die biesmelk
en bietjie warm water gemeng en in haar keeltjie gespuit want sy kon nie meer self
eet nie. Na ete is die “beanbag” warm gemaak en het sy geslapies en haar koppie
is met olie gesalf en ek en my WhatsApp
groepies het gebid. Ek het haar saam gebring werk toe en vir 3 dae het
sy net net vasgeklou aan die lewe. Teen die naweek het sy rondgeloop en op die
gras in die sonnetjie rondgerol en toe het ek geweet sy gaan dit maak.
Vir twee weke was sy die grootste plesier vir my en Louis en het nie net geloop nie maar rondgehop in die huis. Sy het op my man se skoot geslaap wanneer sy moeg is en in die nag wou sy op my japon slaap. So klein as wat sy was het sy omtrent by die trappe afgerol en op die gras gaan bollie. Die Saterdag is ek na die werk se damesuitstappie in Johannesburg en teen halfdrie die middag bel my man en hy wat nooit huil nie snik; hy het per ongeluk op haar getrap, iets het gekraak en sy is dadelik dood nie eers ‘n geluidjie nie. Ek was stukkend maar moes rustig bly ter wille van hom. Ek kan voel die huil is nie uit nie en sit nog in my binneste . Ek was nog nooit so lief vir ‘n hondjie soos hierdie dingetjie wat uit die kake van die dood gebid is nie, hoekom is sy dan tog dood??? Ek voel skuldig want daar is mense wie se kinders en ouers nie meer daar is nie en probeer nie huil nie maar ek mis haar so.