As dit by my moedertjie kom is ek ‘n regte ou “cry baby”. Wanneer iets my omkrap wil ek met haar daaroor praat maar sy is al 6 jaar in haar Hemelse woning. Gister was my hart seer oor my boetie wat beroerte gehad het en vir ‘n breinskadering moes gaan – hy is afhanklik van sy inkomste as tandarts nadat ‘n belegging in ‘n plaas skeefgeloop het.
My kleindogter is gekies om solo te sing in die universiteit se groentjiekonsert, vir haar ‘n groot eer. Gisteraand met die laaste oefening raak haar stemmetjie heeltemal weg as gevolg van griep. My hart is seer oor hulle mammie!
Mammie het altyd die mooiste sagste handjies gehad alhoewel sy as boervrou met vyf kinders baie hard gewerk het. Net na Pappie en Mammie se troue was daar nie elektrisiteit op die plaas nie en sy moes die pas geslagte beeste en skape alleen bewerk. Daardie handjies het vir niks verkeerd gestaan nie en het gebak en vrugte en groente verwerk en alles en almal op die plaas versorg.
Ek het opgehou tel hoeveel serpies hoedjies en manteltjies sy gebrei en weggegee het.
Maar vir ons het daardie handjies LIEFDE en koestering en troos beteken. Tot op haar sterfbed het sy altyd iemand se hand vasgehou en niemand kon dit weerstaan om haar sagte velletjie te streel nie.
Mammie… as ek maar net nog een keer jou handjies kon soen!!!
Mammie hou my hand vas – sy is ‘n paar dae later oorlede.