Argief

Let go and let GOD

Ek weet presies wat dit beteken maar om dit te doen is iets heeltemal anders. Ek sit my pakkie by SY voete neer net om die pakkie weer op te neem die oomblik as ek begin stres. Maar laat ek verduidelik:

My oudste kleinkind is nou 18, n pragtige blonde blouoog meisiekind met die mooiste geaardheid maar wat weet wat sy wil hê in die lewe en hoë morele waardes.
Sy is nog jonk en vir haar is daar nie grys areas nie, net swart en wit. Die lewe leer mens wel dat jy gewoond moet raak aan grys areas anders kan jy dalk onnodig mense oordeel, maar daar is nog baie tyd vir haar om dit uit te vind. Wat hierdie ouma sukkel om te laat gaan is bekommernisse oor haar veiligheid en enige ander ding wat n ouma haar verbeel is n gevaar vir haar arme bloedjie..
Sy het Donderdag by Pukke begin studeer! Haar passie is medies en sy wou nog altyd n mediese dokter word, maar soos ons weet is keuring amper onmoontlik, dus is haar volgende keuse BCur en dan spesialiseer in Neo Nataal. Hulle is besig met oriëntering en vir die volgende twee weke moet hulle net na 5uur in die oggend al daar wees om sport te oefen en dan is hulle besig tot 10uur in die aand waarna sy stoksielalleen moet ry na die huis waar sy bly en ouma se hart krimp ineen (al is dit presies net 1,3km hehe).
Waar daar liefde is mag daar nie vrees wees nie! O Heer ek gee haar geheel en al aan U oor. Sit u n muur van engel leërskare om haar en hou haar in die palm van U hand! Ek los nou die pakkie by U voete.
In Jesus Naam, AMEN

Die glas water

Ek voel moedeloos vandag want ek wil nou al my blog aan die gang hê en is terselfdertyd bang niemand gaan ooit belangstel in my blog nie. maar ten minste gaan ek vir myself skryf wat seker die belangrikste is.

Ek sou graag die storie van die glas water met meer mense wou deel as net myself. In ‘n klas oor stresbeheer en hoe dit mens kan verlam, maak die professor sy glas vol water. Hy vra vir die studente wat dink hulle weeg die vol glas water wat hy is sy hand het.  Na ‘n paar raaiskote van die studente sê hy die gewig is nie van belang nie maar wel die tyd wat hy die glas in sy hand gaan hou.  Vir 1 minuut lank gaan die glas baie lig wees, maar na ‘n uur gaan hy begin swaar word, na ‘n hele dag gaan sy hand lam wees. Dieselfde met jou probleme en stres, dit raak al hoe erger hoe meer jy daaraan dink.

Sit die glas neer!!!